Met die finansiële ondersteuning van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds het ek in 2017 my BA-graad in Regte en Internasionale studies ontvang by die Universiteit van die Witwatersrand. Die lening het my regtig in staat gestel om van my geleenthede gebruik te kon maak.

Ek het in 2014 by die Hoërskool Linden in Johannesburg matrikuleer en 5 onderskeidings gekry. In 2015 het ek by Wits met my BA-graad in Regte en Internasionale studies begin. In my eerste jaar het ek die toekenning gekry as beste nuweling-beoordelaar in die debatstreek Gauteng. Ek het ook op nasionale debatsvlak deelgeneem en is blootgestel aan baie nuwe idees en sprekers.

In dieselfde jaar het ek gekwalifiseer vir die internasionale vereniging, Golden Key, terwyl ek in my tweede jaar aangestel is as adjunk-hoofbeoordelaar van Wits se debatspan, verantwoordelik vir die opleiding van nuwe studente-beoordelaars.

Ek het in 2018 die eerste jaar van my LLB graad klaar gemaak. Ek is ook in 2018 in die Dekaanslys opgeneem vir my akademiese prestasie en het ook verskeie meriete sertifikate ontvang in my verskillende vakke. In Augustus 2018 het ek in Kaapstad my universiteit verteenwoordig as president van die Wits Inala Forum by die Dullah Omar Instituut se nasionale colloquium oor ‘Toegang tot kos op universiteits- kampusse’. Dit is ‘n studentekwessie wat my na aan die hart lê.   As ek nie studeer nie, lees ek graag of ek organiseer staptogte vir myself en my vriende.