Ek is tans ‘n derdejaar BDiv-student aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2019 het ek gematrikuleer aan die Hoërskool Witteberg. My roeping, om ‘n verskil in mense se lewens te maak en om Woord van God te verkondig aan almal, het ek in 2018 ontvang. Die pad was uitdagend tot hier, maar ek weet dat dit die moeite werd sal wees om eendag my Godgegewe roeping uit te leef. Gebeure soos aanlynklasse, verskeie debatte rondom teologiese opleiding, ‘n stywe kursus en die afsterwe van my pa, het definitief my studies meer uitdagend gemaak. 

Danksy die Noordelike Helpmekaar-Studieleningfonds was finansies nog nooit ‘n probleem nie. Dit het baie druk van my skouers afgehaal en kon ek gemakliker op my studies fokus. Ek wil hierdie geleentheid gebruik om die Noordelike Helpmekaar-Studieleningfonds te bedank vir die besondere geleenthede wat hulle vir elkeen van ons moontlik maak.