Deur die genade van God alleen, het ek  die passie en liefde ontvang om ‘n verskil te maak in elke kind se lewe sodat elkeen voorbereid kan wees om hul potensiaal ten volle te kan bereik. Ek was nog nooit spyt oor die keuse wat ek gemaak het om ‘n grondslagfase onderwyseres te word nie.

 Ek het matrikuleer in 2018 by Brandwag Hoërskool in die Oos-Kaap en is tans in my laaste studiejaar by Aros in Montana, Pretoria. Gedurende my studietydperk by Aros het ek soveel geestelike groei en ondersteuning beleef, veral deur die praktiese ondervinding wat ek by Laerskool Rachel de Beer in Pretoria-Noord opgedoen het.

 Ek kan beslis sê dat Aros, as Christelike instelling, my baie verryk en laat besef het dat  God ‘n doel vir my as onderwyseres het. Aros leer studente nie net oor wat onderwys as vakrigting behels nie, maar ook hoe om dit op ‘n geestelike wyse toe te pas. Wat is beter as om ‘n kind aan te raak met die liefde van Jesus.

Danksy die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, asook die ondersteuning van my geliefdes, is dit vir my moontlik om my drome te bereik. Elke fase in my lewe is ‘n “reis” na sukses. Maar my droom eindig beslis nie hier nie. In 2023 wil ek graag verder studeer en my honneurs aanpak in Besigheidsbestuur.

 Ek het nog altyd ‘n liefde vir kosmaak en geniet die glimlag op mense se gesigte na ‘n lekker bord kos. Ek skryf graag ook in my vrye tyd en is mal oor “shopping”. Ek geniet nuwe avonture en het ‘n liefde vir die boslewe. Ek is dankbaar vir my familie en vriende wat vir my ‘n steunpilaar is in my studies en die bereiking van my ideale. Ek sien uit vir die toekoms. Met God aan my kant weet ek dat alles moontlik is, want ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.