Ek  is tans ‘n derdejaar fisioterapie student aan die Universiteit van Pretoria. Met COVID-19 was dit moeilik om die praktiese aspek van fisioterapie te ervaar en aangesien ek verkies om meer praktiese werk te doen, was dit uitdagend. Ons het gelukkig vanjaar begin met kliniese blokke waartydens ons in hospitale en ouetehuise kan werk. Ek geniet dit om nou meer prakties te kan werk en sodoende die beroep wat ek eendag so graag wil volg, uit te leef.

Ek was nog altyd baie passievol oor sport en is lief daarvoor om tussen mense te wees, daarom die keuse om ‘n fisio te word. Die gedagte dat ek eendag mense sal kan help deur dit te doen waarvoor ek lief is en ‘n groot passie voor het, maak my opgewonde oor my toekoms. Ek geniet dit om elke dag iets nuut te leer, terwyl ek met pasiënte werk tydens die kliniese blokke, asook om interaktief te kan wees met die pasiënte. 

Ek sal graag eendag as ‘n sport- fisio wil werk aangesien my belangstelling hoofsaaklik daarin lê, maar sal graag ook betrokke wil wees by die rehabilitasie van ruggraatbeserings. Dit maak my opgewonde om te weet ek kan die beroep volg wat die Here op my lewenspad geplaas het en om deur hierdie beroep ‘n verandering in mense se lewens te maak.

Ek is baie dankbaar vir die Helpmekaar-Studiefonds wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie passie en droom van my ‘n realiteit te maak.