Ek is tans in my derde jaar in Arbeidsterapie aan die Universiteit van die Vrystaat en het in 2017 aan Hoërskool Randburg matrikuleer.

Ek het in  my graad 11- jaar skaduwerk by ‘n Arbeidsterapie praktyk gedoen en van dag een al geweet dat dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen.  Arbeidsterapie het my gekies, en nie andersom niel

Die keuring vir die kursus is streng en ek was nie in my matriekjaar suksesvol nie. Ek het toe vir ‘n jaar Grondslagfase Onderwys studeer.   My tweede aansoek aan die einde van my eerste jaar was suksesvol.

Ons het  vanjaar met Kliniesprakties begin en daar is vir my niks lekkerder as om toe te pas wat ek geleer het nie.  Ek leer ook nog meer by gekwalifiseerde, ervare terapeute.

Dit was eers toe ek Arbeidsterapie begin studeer het dat ek besef het hoe wyd die veld is.  Ons speel nie net met kinders nie,  is ook nie “oorgekwalifiseerde onderwysers” nie en ons werk nie op aarbei- plase (soos my nefie gedink het) nie.  Daar is ‘n aanhaling wat sê “Docters add days to life, but Occupational Therapists add life to days”.  Ons help mense om hulself te help.  Ons leer ons pasiënte om met ‘n gestremdheid, fisies of verstandelik, so onafhanlkik as moontlik  op alle gebiede te funksioneer.

Pasiënte strek van  babas van voor geboorte tot bejaarde persone van 101+ jaar oud.  Ons werk in multi-dissiplinêre spanne saam met dokters, verpleegsters, fisioterapeute, spraakterapeute, maatskaplike werkers ens.  Daar word ook soms na ons beroep verwys as die ‘Kuns’ in die Mediese veld, omdat ons so kreatief moet wees in ons behandeling.

Wanneer ek eers begin praat oor my studies en toekomstige beroep, is daar moeilik  keer aan my.  Ek het ‘n passie vir mense en ‘n liefde daarvoor om hulle te help.

My finale studie jaar is in 2022 en ek is baie dankbaar vir die geleentheid om te kan studeer.  Baie dankie  aan Die  Noordelike Studiehulpfonds vir die ondersteuning sodat ek vir die res van my lewe ander mense kan ondersteun.