Ek het in Virginia in die Vrystaat grootgeword, waar ek in 2016 aan die Hoërskool Hentie Cilliers gematrikuleer het. Aangesien so baie mense in my grootwordjare skynbaar hul seuns Ruan wou noem, het ek op skool altyd daarna gestreef om die beste Ruan te wees wat ek ken.

Ek is tans in my derde jaar LL.B aan die NWU se Potchefstroom-kampus. Tot dusver het ek elke oomblik geniet. Ek het talle geleenthede aangegryp, onder andere, ‘n kans om Familiereg en Sakereg tutoriale aan te bied, om vir die Skryfsentrum op kampus te werk as ‘n konsultant en ‘n artikel te publiseer op News24 se webblad. Gryp elke oomblik aan die nek, ry dit oor die reënboog en benut dit ten volle want spyt kom altyd te laat.

Helpmekaar het my nou vereer met ‘n merietetoekenning, ‘n goeie bewys dat ek nie net gesien word as ‘n bron van toekomstige rente en terugbetaling nie, maar dat hulle werklik omgee oor my en my toekoms. Ek sal altyd dankbaar wees vir al die ondersteuning wat ek van almal kry. En ek weet nie wat sou ek doen sonder ʼn Helpmekaar-studielening nie!