My naam is Nicola Burger en ek het in 2019 matrikuleer aan die Hoërskool Menlopark met 6 onderskeidings.  Vandat ek klein was, was my droom nog altyd om medies te studeer.  Ek het ongelukkig nie dadelik na Graad 12 keuring gekry nie.  Ek het in 2020 aan die Universiteit van Pretoria BSc Biologiese Wetenskappe gestudeer, met die oog om keuring te kry.  As gevolg van die Covid-19 pandemie, die gepaard gaande inperkings en die gevolglike aanlyn studies was 2020 seker een van die moeilikste jare vir enige student gewees.  Dit het onmoontlik gelyk om onder sulke omstandighede goed te presteer en keuring te kry.

Ek het aan die einde van 2020 met die hulp van die Here, die Noordelike Helpmekaar Studiefonds, harde werk en deursettingsvermoë wel keuring gekry en is tans ‘n eerste jaar mediese student.  My suster is ‘n derde jaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria en die finansiële las op my ouers sou baie swaar gewees het.   Die wete dat ons gesin nie oor finansiering hoef te bekommer  nie en ook die ondersteuning wat ek in hierdie tyd van die NHSF ontvang het, sal ek altyd voor dankbaar wees.