Ek is tans ʼn tweede jaar student aan die Universiteit van Pretoria en studeer vir ʼn Bcom-graad in HR Management (Menslike Hulpbronbestuur), met die hoop om eendag te spesialiseer in Bedryfsielkunde. Ek het nog altyd ʼn vriendelike, maar wel sterk, persoonlikheid gehad en Menslike Hulpbronne bestuur het net sin gemaak. Die dag toe ek n HR-direkteur besoek het, het ek geweet die rigting was vir my en sover geniet ek elke deel daarvan.

My belangstellings was nog altyd sterk in dit waarin ek nie die beste was nie, soos sing, dans en ʼn nuwe taal aanleer,  maar dit het my nog nooit gestop om myself te geniet nie. Ek was nog altyd die soort persoon wat daarvan hou om mense te ondersteun en ʼn bietjie gelukkigheid in hulle lewe in te bring.

Vandat ek met universiteit begin het,  het ek geleer om uit my gemaksone te kom. Ek doen prosesse wat ek nooit  gedink het ek sou doen nie, maak vriende waar ek nie verwag het nie en groei  elke dag. Die afgelope jaar en ʼn half is tien maal beter as die twaalf jaar op skool.

Sonder die Noordelike Helpmekaar-Studieleningsfonds sou niks van dit alles moontlik gewees het nie. Baie dankie vir die geleenthede wat julle vir my gegee het, ek is verewig dankbaar.