Vandat ek kan onthou het ek nog altyd ‘n passie vir diere gehad. As mense my gevra het: “Wat wil jy eendag word?”,  was my antwoord op hulle vraag altyd gewees: “veearts”. In 2018, het ek iets ontdek waarin ek ‘n groter belangstelling getoon het, iets waarmee ek ‘n groter verskil kan maak, naamlik  ‘Animal Science’ (Veekunde). Ek is tans besig met my 4de jaar (Honneurs) in BSc (Agric) ‘Animal Science’ aan die Universiteit van Pretoria en beplan om volgende jaar my Meestersgraad in diere-voeding, gefokus op pluimvee, te doen. 

Vandat ek my studies in 2019 begin het, was dit nie altyd maklik nie en daar was ‘n paar keer wat ek my keuses sterk heroorweeg het, maar “looking back on it” sal ek niks wou verander nie. 

Die pandemie in 2020, wat almal se lewens drasties verander het, het ‘n negatiewe invloed op my studies gehad omdat my pa se inkomstes drasties begin afneem het. Gevolglik sou hy nie meer vir my studies kon betaal nie. Ek het toe gehoor van díe Noordelike Helpmekaar-Studieleningfonds, en hulle gekontak, waarna hulle my kon help om my passie en drome ‘n realiteit te maak. En daarvoor is ek dankbaar.