Vandat ek ‘n jong tiener was, was ek nog altyd mal oor diere en biologie. Ek het egter nooit in my wildste drome gedink ek sal eendag veeartsenykunde ‘swot’ nie. Dit is die perfekte graad vir my, want dit kombineer my liefde vir diere en biologie in ‘n loopbaan wat ek vir die res van my lewe sal volg. Wat ek ook van veeartsenykunde hou, is dat daar altyd iets nuuts is om te leer, dus bly jy altyd ‘n ‘student’ en jy kan elke dag verbeter met die kennis wat jy verkry.

Ek is tans in my vyfde jaar, en gaan binnekort in Julie met my kliniese rotasies begin. Ek sien vreeslik uit hierna, alhoewel dit heelwat buite my gemaksone gaan wees. Ek dink dit gaan so lekker wees om na 4.5 jaar se teoretiese werk dit nou uiteindelik prakties te kan toepas – ek sien uit om baie te leer by veeartse met jare se ondervinding. Die rotasies waarna ek die meeste uitsien is chirurgie van perde en klein diere (honde en katte). Dit is beslis ‘n veld waarin ek myself eendag sien, omdat daar so baie geleenthede vir spesialisasie is.

Wanneer ek aan my toekoms dink, kan ek nie help om te dink aan waar dit alles begin het nie – saam met my ongelooflike oupa wat Jersey koeie gemelk het op sy plot in Vanderbijlpark. Hy het my liefde vir diere gekoester; hy het altyd vir my die nuutste HQ perde tydskrif gekoop, saam met my die eende se vere gaan optel en  was hy altyd reg om my hand in syne te vat sodat ons saam na die bure se Appaloosa perde kon gaan kyk. Hy het my gewys dat jy altyd alle diere met gesag en uiterse respek moet behandel. Dit is iets wat ek in my hart sal dra vir die res van my lewe.

My ander oupa het ons as gesin altyd saam na Mabalingwe wildreservaat geneem. Hier het hy graag vir my die verskillende soorte voëls gewys en ek het ‘n groot liefde vir die natuur en Bosveld ontwikkel. Die wildsritte wat ons as familie saam gedoen het was baie spesiaal en lê naby aan my hart.

Ek wil hierdie geleentheid gebruik om dankie te sê aan my ouers, my boetie asook my oumas, oupa en tannies – alles wat is, is te danke aan julle, julle is my hele hart. Laastens wil ek die Noordelike Helpmekaar Studiefonds bedank vir hulle finansiële ondersteuning gedurend my studies.