Ek is 21 jaar oud en ‘n student aan die NWU se Potchefstroomkampus en studeer BCom Bedryfs- en Organisasiesielkunde met Arbeidsverhoudingebestuur. Ek is gebore in Sasolburg en het in 2020 aan die Hoërskool Vereeniging Gimnasium graad 12 voltooi.

Met die hulp van my ouers, die Here se Genade, en ‘n lening van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds kon ek al my drome volg en my toekoms beplan, beide akademies en professioneel.

Ek is uiters entoesiasties oor wat ek studeer en beoog om dit ‘n groot sukses te maak. In graad 11 was ek nog onseker oor wat ek wou doen, maar ek het geweet ek wil in die besigheidswêreld  werk. asook met mense. Prof Zack Nel, ‘n beroepsadviseur, het aanbeveel dat ek hierdie kursus volg. Dit is lang ure en baie werk, maar ek is mal oor elke minuut daarvan aangesien ek leer oor die sielkunde van mense in die werkplek.

My beroep fokus op werknemergedrag in die werkplek, om dan die kwaliteit van werkslewe te verbeter en doeltreffendheid te maksimeer. Arbeidsverhoudinge is ‘n ondersteunende praktyk wat fokus op die interaksie tussen ‘n maatskappy se bestuur en sy arbeid.

Alhoewel my studies vir my uiters belangrik is, het ek ook geleer hoe belangrik dit is om ‘n gebalanseerde lewe te lei. Gevolglik het ek aktief geraak in talle studentestrukture en die koshuislewe. Ek is tans die Ondervoorsitter van die Studente Kampusraad se sekretariaat . Ek  beplan om volgende jaar vir KSR: Adjunkvoorsitter te staan. Om by hierdie aktiwiteite betrokke te wees en myself bloot te stel aan die talle kulture, rasse en godsdienste wat in Suid-Afrika bestaan, was vir my ‘n geweldige leergeleentheid, en ek het baie vriende langs die pad gemaak.

Ek is baie dankbaar teenoor die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds wat ‘n merietebeurs aan my toegeken het. Dit dien as nog ‘n motivering vir my om hard te werk.