Ek is tans ʼn tweedejaar onderwysstudent op die NWU-PUK. My groot ambisie was (en is steeds) om eendag ‘n gekwalifiseerde siviele ingenieur te kan wees. Ek het op skool ʼn groot passie vir IGO (Ingenieursgrafika & Ontwerp en ook Tegniese Tekeninge) gehad en daarom het ek die droom gekoester om ʼn siviele ingenieur te word.

Ongelukkig het wiskunde & wetenskap my “gepootjie” om hierdie ideaal na te streef en na beraadslaging met ‘n professor by CUT (Central University of Technology) het ek besluit om my liefde vir IGO uit te leef en sodoende ander kinders te help om die vak te bemeester. Gevolglik het ek begin met my  Onderwysgraad aan die NWU se PUK-kampus. As eerstejaar is jy onder geweldige druk en is dit so belangrik dat jy die regte balans tussen “pret” en “werk” moet handhaaf, want jy het verpligtinge teenoor almal wat hierdie deure vir jou oopgemaak het.

Met toewyding en harde werk kon ek egter deurdruk en my eerste jaar op universiteit baie suksesvol aflê met ‘n paar onderskeidings en goeie punte in al my ander vakke. Soos wat die akademiese jare vorder word die werkslading en vereistes al meer en dit is juis dan wanneer jy as student soveel meer toewyding en balans moet handhaaf. Ek is egter toegewyd  en vertrou dat ek beslis met die Genade van Bo ‘n sukses daarvan sal maak.

Ek wil graag vir die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds hartlik bedank vir die geleentheid wat hulle my bied om my studieloopbaan te kan volg en vir die vertroue wat hulle in my stel. Ek dra nie net my ouerhuis se belange nie, maar ook NHSF se belange, op die hart.