My suksesverhaal is bietjie meer ongewoon as die normale persoon s’n, want my huidige sukses was amper nie vir my beskore nie en dit weens my eie toedoen.  

Voor my matriekjaar het ek gemiddeld presteer op skool. Ek het baie gesukkel om stil te sit agter ‘n lessenaar en te leer. Huiswerk doen was die laaste ding op my prioriteitslys. My grootste belangstelling was in rekenaars en aanlynspeletjies saam met my vriende.

Amper te laat, gedurende graad elf, gaan my oë skielik oop en besluit ek dat ek aansoek wil doen vir toelating aan die Universiteit van Pretoria. Ek wou bitter graag BCom Informatika gaan studeer. Ongelukkig was my punte op daardie stadium nie goed genoeg vir toelating nie en moes ek vir die tweede beste alternatief inskryf, naamlik BIS Multimedia waarvoor ek later voorlopig keuring ontvang het. My voet was in die deur, maar dit was nog ‘n lang pad wat vir my voorgelê het.  

Ek het met ‘n harde slag besef dat ek my sokkies sal moet optrek en baie vining ook. My matriekuitslae was my laaste kans om die eerste trappie na sukses te klim en ‘n blink toekoms vir myself te verseker in die rekenaarbedryf wat nog altyd my passie was.  

Ek het nog nooit so hard geleer soos daardie jaar in matriek nie. Ek het absoluut alles ingesit, bloed gesweet en my heel beste probeer.  

Toe kom my matriekuitslae en was ek uitermate verras toe ek my resultate sien. Dit was baie beter as wat ek verwag het en kon ek myself op die skouer klop. My harde werk het goeie vrugte afgewerp en was ek self, en my ouers, baie trots op my.

My toelatingspuntetelling (TPT) was vêr bo die vereiste telling vir BCom Informatika en ek was toe nog meer vasberade om dit te gaan studeer. Die geluk was aan my kant en het die universiteit nog plek beskikbaar gehad om my te akkommodeer. 

Met hulp van Bo, baie harde werk en die ondersteuning van my ouers, familie en vriende het ek my BCom Informatika-graad behaal in 2021. My uitslae was bogemiddeld goed en het ek keuring gekry vir my honneursgraad gedurende 2022.

Ek werk tans as ‘n “full stack developer” en geniet  my werk onsettend baie. My toekoms lê oop voor my en is die moontlikhede nimmereindigend.

Filippense 4:13 het my lewensmoto geword- Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.  

Ek wil graag ander motiveer met my verhaal sodat hulle sal besef dat deur harde werk en deursettingsvermoë hulle ook sukses kan behaal!

Sonder die finansiële bystand van die die Noordelike Helpmekaar-Studieleningsfonds sou my huidige sukses nie moontlik gewees het nie. Dankie vir die kans om my drome ‘n realiteit te maak.