Ek is baie bevoorreg om tans besig te wees met my tweede jaar mediese studies aan die Universiteit van Pretoria. Ek is opreg dankbaar teenoor die Noordelike Helpmekaar Studiefonds wat dit vir my moontlik maak om hierdie studierigting aan te pak. Ek geniet elke oomblik van my studies en sien uit na die tyd wanneer ek die teorie kan toepas om mense te help met hulle fisiese gesondheidsbehoeftes.

Maar die paadjie wat ek gestap het voor hierdie deur oopgemaak het was nie altyd ‘n maklike een gewees nie. Tydens my hoërskoolloopbaan was medies altyd ‘n studierigting wat my belangstelling geprikkel het. Ek het ook besef dat dit ‘n groot besluit was om te neem. Mense het my gereeld vertel van die lang werksure en ook hoe lank ek gaan moet studeer, maar tog is ek nie daardeur van stryk gebring nie.

Ek het toe begin aansoek doen by elke moontlike universiteit in ons land wat medies aanbied. Gedurende die seisoen waar almal begin hoor het waar hulle gaan wees die volgende jaar, het ek geleer om God te vertrou in waar Hy my wou plaas, want ek het vir lank geen terugvoor vanaf die universiteite gekry nie.  Uiteindelik toe die terugvoer kom was die een na die ander ‘n nee gewees. My eerste keuse vir medies is by al die universiteite afgekeur en die Universiteit van Pretoria het my toelating vir B.Sc gegee. Alhoewel die kanse nie in my guns getel het om van ‘n B.Sc oor te slaan na medies  nie, het ek die keuring aanvaar wetend dat God die finale sê gehad het in waar en wat ek uiteindelik sou studeer.

Ek het toe begin met B.Sc en vining besef dat ek  dit nie gaan oorleef as ek dit in my eie krag probeer doen nie. Die Here het my geleer om heeltemal afhanklik van Hom te wees. Hy het my geleer hoe om my stres oor te gee aan Hom en om net te fokus om my deel elke dag te doen. En so het ek prakties ervaar wat Psalm 119:105 sê: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” Een stappie op n slag het ek aangegaan tot ek na die eerste semester van B.Sc terugvoer gekry het dat my aansoek vir medies aanvaar is.

Die ses maande wat ek B.Sc studeer het was ‘n leerskool gewees in soveel aspekte en wanneer ek nou terugkyk is ek net dankbaar . Dit is absoluut wonderlik om God se handewerk en beplanning in alles te sien. Alhoewel ek nie altyd gevoel het dat dit die beste pad is nie, is ek vandag so dankbaar dat God my gehelp het om op Hom te vertrou en my toekoms in Sy hande te los.