Ek is 20 jaar oud en studeer tans aan die NWU se Potchefstroomkampus. Ek is gebore in Sasolburg, het daar skoolgegaan en in 2020 matrikuleer aan Hoërskool Vereeniging Gimnasium.

Ek is tans ‘n tweede jaar BCom Bedryf- en Organisasie Sielkunde student. Met my ouers se ondersteuning, die Here se Genade en die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds se lening, kon ek tot dusver al my drome najaag en aan my toekoms bou. 

Ek het ʼn groot passie vir dit wat ek studeer en strewe daarna om ʼn groot sukses daarvan te maak. Ek was in Graad 11 nog onseker oor wat ek presies wil doen, maar ek het geweet ek wil in die besigheidswêreld ingaan, sowel as met mense werk. Na ‘n besoek aan ‘n loopbaanberader het ek ingeskryf vir my graadstudies. Ek was eers skepties, maar tot nou toe is ek glad nie spyt nie.

My beroep fokus op die gedrag van werknemers in die werkplek om die gehalte van die werkslewe te verbeter en produktiwiteit te optimeer. Arbeidsverhoudinge is ʼn ondersteunende praktyk wat spesialiseer in die verhouding tussen die bestuur van ʼn maatskappy en sy werkerskorps.

Alhoewel my studies vir my baie belangrik is, het ek ook geleer dat ʼn mens ʼn gebalanseerde lewe moet leef. Dus het ek ook betrokke geraak by verskeie studentstrukture, waarvan ek die voorsitter van een van hulle is. Dit het my ook blootgestel aan verskeie kulture, rasse en gelowe.

Ek het ook by Villagers Manskoshuis aangesluit. Ek het daar vriende gevind wat dieselfde passie en denkwyse oor die lewe het as ek.

Ek is baie dankbaar teenoor die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds wat vir my n meriete toekenning gee. Dit is vir my ‘n ekstra motivering om hard te werk.