Van kleins af het ek ‘n groot liefde vir kuns en al sy vorme gehad. Ek word gefasineer deur geboue en voorwerpe en kyk altyd met verwondering na hoe die son die skaduwees deur die loop van die dag anders laat dans, hulle vorm en die stories wat hulle verklap. In 2018 het ek keuring vir my droom beroep, Argitektuur, by die Universiteit van die Vrystaat gekry.

Die moontlikheid om hierdie beroep te volg en om dit ‘n realiteit te maak, sou nie moontlik kon wees sonder die finansiële ondersteuning van die Noordelike Helpmekaarstudiefonds nie. Alhoewel my studierigting dag en nag se harde werk en uithouvermoë verg; baie verantwoordelikheid op my skouers plaas en ‘n hele paar uitdagings bied, maak die fonds dit moontlik om rustiger te voel oor die finansiële kwessies. Ek is vreeslik dankbaar vir hierdie goue geleentheid wat aan my gebied is, om my drome te volg en om ook sodoende die toekoms wat argitektuur my bied, te betree.

‘n Gebou is soveel meer as ‘n vloer, mure en ‘n dak. Dit is ‘n spasie waarin duisende herinneringe gekoester en beskerm word vir generasies wat volg. Dis ‘n geleentheid om mense  van verskillende kulture en sosiale omstandighede saam te bring en ‘n wyse waarop ons leer om saam met die natuur en ook tot voordeel van die natuur, te werk.

Dis met ‘n hart wat oorspoel van ongekende dankbaarheid wat ek die Noordelike Helpmekaarstudiefonds wil bedank vir hulle ondersteuning en belegging in my toekoms.