Die totstandkoming van Suid-Afrika se Helpmekaar-beweging is van die merkwaardigste gebeurtenisse in die geskiedenis van ons land. Mense wat verslaan en verarm is weens ʼn oorlog wat 3 jaar geduur het, het bymekaar gestaan en saamgewerk om in rekordtyd ʼn reusagtige bedrag geld in te samel – wat vandag, honderd jaar later – steeds deur studente benut kan word.

Ja, ons wortels lê diep. Dit strek terug tot 10 November 1917 – Helpmekaar-dag. Dis die datum wat as die hoogtepunt van die Helpmekaar-beweging beskou word.

Ons, die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds (NHSF), het uit die Helpmekaar-beweging voortgespruit.

Indien ‘n mens wil weet hoe dit gebeur het, moet jy verder terug loop op die spore van die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902). Soos in elke ander oorlog, is groot lewensverlies, vernedering en verarming gely deur die verslane burgers van die Boererepublieke wat teen Engeland geveg het.

Agt jaar ná die vredesluiting het die Unie van Suid-Afrika, met sy hegte bande aan Engeland, tot stand gekom. Toe die Eerste Wêreldoorlog vier jaar later uitbreek, het Brittanje Suid-Afrika gevra om ʼn Duitse kolonie, Duitswes-Afrika (vandag Namibië), binne te val en te annekseer.

Dit het die tafel gedek vir ʼn rebellie, want vir baie Afrikaners was die versoek onaanvaarbaar, omdat (soos oudpresident Steyn dit gestel het) “die kinders van die konsentrasiekampe” moes oorlog maak teen die Duitsers wat die Boererepublieke in die Anglo-Boereoorlog ondersteun het. Nagenoeg 11 000 mense het teen die koloniale regering gerebelleer, helaas onsuksesvol.

Nadat die rebellie onderdruk was, het die regering nie net van die Rebelle-leiers hof toe geneem nie; skadevergoeding is ook van hulle geëis: die Vrystaat alleen was nagenoeg 336 000 pond. Vandag sou daardie bedrag meer as R80 miljoen beloop.

Die Afrikaanse gemeenskap was platgeslaan. Maar hulle het saamgestaan om geld in te samel sodat die skuld vereffen kon word. Die insamelingspoging het die verbeelding aangegryp.

Nie net is die skuld uiteindelik ten volle vereffen nie; geld het oorgebly, wat vir opvoedkundige doeleindes (lees: Helpmekaar-studiefondse) in die vier provinsies aangewend kon word.

Hoe die geld ingesamel is, is ʼn inspirerende verhaal. Die geld wat van die Vrystaatse rebellie-ondersteuners geëis is – dis waarvandaan die meeste rebelle gekom het – was sowat £336 000. Vergelyk dit met die salaris van £120 per jaar wat ʼn gegradueerde onderwyser toe gekry het.

Op Bethlehem het mense bymekaar gekom en besluit: “Ons moet saamdra en saamwerk”. Hulle het hulleself die Helpmekaar-vereniging genoem. Soortgelyke verenigings het in Transvaal en Kaapland ontstaan.

In Julie 1917 is kongres van die onderskeie Helpmekaar-verenigings gehou, waar aangekondig is dat daar nog ʼn tekort van £110 000 is – bykans ʼn onmoontlike doelwit ná alles wat reeds gedoen was.

Nietemin,10 November 1917 is as teikendatum gestel waarop genoeg geld ingesamel moet word om al die skuld te betaal. Die teikendatum is Helpmekaar-dag genoem. Mense was skepties oor die doelwit, maar landwyd is met hernieude geesdrif tot die geldinsameling toegetree.

Nadat die Kaapse koerant Die Burger (met dr. D.F. Malan as redakteur) sy gewig ingegooi het, het mnr. Japie de Villiers, ʼn boer van die Paarl, aangebied om £500 tot die Helpmekaarfonds by te dra, mits 500 mense elk £100 sal skenk.

Dit was ʼn belangrike keerpunt. Dit was die stimulus. Kerke het van deur tot deur gekollekteer. Vroue en vroue-verenigings het geld ingesamel met basaars, konserte, pieknieks en so meer. Uit die geledere van die jeug het 44 skenkings van £100 gekom. Gesinne het klaargekom sonder vleis en suiker om die geld wat so bespaar is, te skenk.

Kinders het uit hul sakgeld bygedra en gesellighede is afgelas. By ʼn skoolkoshuis het die seuns besluit om ʼn kwartaal lank nie botter te eet nie en die geld aan die Helpmekaar te skenk. (Uit die gemeenskap is daar toe vir hulle botter gegee, ʼn aanbod wat hulle aanvaar het… met die versoek dat hulle dit óók mag verkoop om hul Helpmekaarbydrae aan te vul!).
ʼn Bankrot boer het 2 hoenders gegee met die woorde: ‘’Ik is geheel uitgeboer. Dit is alles wat ik kan gee.”

Op 8 November 1917, 2 dae voor Helpmekaardag, het die getal honderdponders op 1187 gestaan. Uiteindelik was daar 1415 honderdponders. In vandag se geldwaardes is dus meer as R35 miljoen binne 4 maande ingesamel (weer eens ʼn skatting wanneer van die waarde van ‘n pond toe in vandag se randwaarde).

“Helpmekaardag”, of 17 November 1917, koppel dus ʼn datum aan wat sekerlik een van die merkwaardigste gebeurtenisse in Suid-Afrika se geskiedenis is. Die Helpmekaar is lewende bewys van wat bereik kan word met empatie vir mekaar, samewerking en geesdrif.

Dit is daardie gees dat die Noordelike Helpmekaar-studiefonds vandag nog op onbaatsugtige wyse jongmense help om hulle vir ʼn beter toekoms voor te berei – tot voordeel van die land. Die Kaapse Helpmekaar het sedert sy stigting onafgebroke bly voortbestaan. Die Vrystaatse Helpmekaar funksioneer deesdae onder die vaandel van die Vrystaatse NG Kerk.
Vroeg in die 1970’s het Natal, die huidige Kwazulu-Natal, hulle geld aan die Kaapse Helpmekaar oorgedra.

In die Transvaal het die fonds teen einde 1940 ʼn bedrag van £4 540 aan die Universiteit van Pretoria geskenk sodat ʼn mediese fakulteit begin kon word. ʼn Eiendom wat deur die Abraham Kriel-kinderhuis gebruik is, is aan die weeshuis geskenk.

Maar teen 1953 was die meeste van die Transvaalse komiteelede reeds oud of oorlede. Die geesdrif het merkbaar afgeneem. Gevolglik is besluit om die fonds te ontbind.

Die fonds se bates het op £684 gestaan, waarvan £600 aan die Noord-Transvaalse Kreupelsorgvereniging geskenk en die res by die destydse Saambou belê is.

Twee jaar later het kerk- en kultuurmense in Johannesburg opnuut besluit om die studiefonds te laat herleef, ‘n ideaal wat eers op 2 Maart 1962 verwesenlik is met die stigting van die Transvaalse Helpmekaar-Studiefonds.

Die “nuwe fonds” kon in daardie stadium staatmaak op sowat R1 100; rente van R40,23 en beloftes van ʼn verdere R8 800. Ses lenings uit twaalf aansoeke kon goedgekeur word. Sedertdien kon nagenoeg 2 000 jongmense gehelp word om hulleself met tersiêre studie vir die toekoms toe te rus.
Nadat Suid-Afrika ‘n nuwe provinsiale stelsel gekry het, is die fonds se naam na die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds verander.