Magda Swart het in die vorige eeu BA (kommunikasiekunde) aan die destydse PU vir CHO gestudeer en het in 1979 by Beeld ingeval as algemene verslaggewer in die nuuskantoor.

Later het sy gespesialiseer in beriggewing oor staatsdiens- en onderwyssake voordat sy rondom 1996 een van die eerste vroue was wat ’n hoofredaksielid van Beeld geword het. Sy was ook by Rapport, waar sy adjunkredakteur was, voordat sy beheer oorgeneem het van die nasionale produksiespan. Met die koms van Netwerk24 het die produksie en taalversorging van dié aanlyn publikasie ook haar span se verantwoordelikheid geword.

Sy het in haar tyd as verslaggewer in sowel Johannesburg as Pretoria gewoon en gewerk.

Nadat sy in ’n stadium weg is by Naspers om by die departement van landbou in Pretoria te gaan werk, is sy gevra om terug te kom en was toe deel van die eerste redaksie van Finansies en Tegniek.

Sy was ook betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van verskeie ander produkte waarvan Beeld se kuns- en vermaaklikheidsbylae, Plus, en Rapport se tydskrif MyTyd vir haar uitstaan.

Magda het op ’n plaas in Heilbron in die Vrystaat grootgeword en matriek geskryf aan die Hoërskool Willem Pretorius. Sy woon nou in Linden, Johannesburg, maar die verbintenis met die Vrystaat is steeds baie sterk.

Haar enigste seun, Mathinus, het voor haar betrokkenheid by die NHSFonds, met die hulp van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds gestudeer.