Dr. Frits Kok met ATKV-erelidmaatskap vereer

Dr. Frits Kok, besturende direkteur van Noordelike Helpmekaar- studiefonds en voormalige besturende direkteur van die ATKV, is met die hoogste verering waarmee ‘n ATKV-lid kan spog vir sy bydrae tot die ATKV beloon.

“Dit is ‘n voorreg, maar ek wil eerlik sê ek staan op die skouers van soveel entoesiastiese personeel, medewerkers en lede. Die gebaar van die ATKV is ‘n weerspieëling van hul (personeel, medewerkers en lede) wonderlike ondersteuning en entoesiasme en kom hulle eintlik toe, sê dr. Kok.

Dr. Kok het op 1 November 1981 by die deure van die ATKV as besturende direkteur ingestap. “Ek onthou dit goed, dalk ook omdat dit daardie September in Gauteng gesneeu het,” vertel hy.

In dié tyd moes jy nog ‘n werknemer van Transnet wees om ‘n lid van die ATKV te kon wees, wat later onder die leiding van dr. Kok verander is.

Onder sy leierskap het die lidmaatskapgetalle van die ATKV feitlik verdubbel en die taknetwerk al groter geword.

Uitdagings was daar baie.

“Om die verandering op kultuurterrein te bestuur, was ‘n groot uitdaging veral in die lig gesien van die veranderinge in die land. Ons wou deel wees van die nuwe Suid-Afrika, maar ons wou ook tuis wees.

“Toe die nuwe bedeling kom, is die ATKV aanvaar en ons was die eerste kultuurorganisasie wat kon sê dat oudpresident Nelson Mandela ons algemene jaarvergadering geopen het.”

As dr. Kok gesels oor sy tyd by die ATKV, kan jy dadelik hoor dat hy net die hoogste agting vir die personeel en die lede het.

“Ek kon deel wees van ‘n span entoesiastiese personeel en saam met hulle en ook die lede kon ons die veranderinge in my amper 25 jaar by die ATKV suksesvol hanteer.

Dr. Kok was die stigterslid van die jaarlikse Pendoring-reklametoekennings.

Maar waarmee hou die formidabele ATKV-man hom deesdae besig?

Ná ‘n sabbatsjaar het hy hom aangesluit by die Noordelike Helpmekaar-studiefonds wat studente met studielenings help om verder te studeer.

Dr. Kok mag dalk nie meer by die ATKV werk nie, maar sy drome vir dié dinamiese organisasie is nie minder as toe hy nog hier was nie.

“Ek hoop dat die ATKV daarmee sal voortgaan om ‘n eenstoporganisasie te wees, in die geweldige groot behoefte van die breë Afrikaanse kultuurgemeenskap sal kan voorsien en onmisbaar deel van Suid-Afrika sal wees.”

Tydens die oorhandiging van die erelidmaatskap is van links Deidre le Hanie (besturende direkteur van die ATKV), dr. Frits Kok en Anton Redelinghuis (voorsitter van die ATKV-direksie).

  • www.atkv.org.za
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie