GRADnext — oorbrug só die gaping tussen student-wees en werkende volwassene

Vir baie jong mense is die oorgang van universiteit (of ander tersiêre instellings) na die werkplek ʼn stresvolle ervaring. Maar danksy die advies vervat in ʼn nuttige nuwe handleiding, GRADnext, kan dié brug met baie meer selfvertroue oorgesteek word.

GRADnext is geskep deur dieselfde span wat verantwoordelik was vir GRAD, die uiters gewilde handleiding van Studietrust wat daarop toegespits is om senior leerders te help om sukses op universiteit te verseker. Bykans 500 000 eksemplare van GRAD is al onder eerstejaarstudente op verskeie kampusse landwyd versprei.

GRADnext se teks is die werk van die bekende TV-persoonlikheid en joernalis, Ruda Landman, tesame met ander medewerkers en voormalige Studietrust-begunstigdes wat insette lewer ten opsigte van die lekker en die slég in die werkplek. Die gids is ontwerp en gedruk deur Van Schaik-uitgewers, terwyl Capitec Bank (wat die geld vir die drukwerk en verspreiding bewillig het) heelwat inhoud verskaf het oor finansiële geletterdheid. Landman het ook vir ʼn oudio-weergawe van die gids gesorg.

Die handleiding – wat, onderworpe aan kopieregvereistes, gratis en volledig afgelaai kan word by www.myvsp.co.za/GRADnext.html – bevat ʼn magdom nuttige inligting wat afgestudeerdes stap-vir-stap aan die hand van praktiese riglyne help om die werkplek en wêreld daarbuite met durf en moed te betree. Dit is in vier seksies verdeel: 1) Kén jouself; 2) Ontdek die geleenthede; 3) Die praktiese sake rondom werk soek; en 4): Om ʼn werkende volwassene te wees.

In die seksie Ken Jouself, word jy byvoorbeeld gelei om jouself te ‘karteer’ ten opsigte van motivering, vermoë en persoonlikheid. Jou persoonlike ‘handelsmerk’ word ook onder die soeklig geplaas: “Of ons dit nou besef of nie, ons bou ons reputasie en persoonlike handelsmerk in elke interaksie met ander. Die manier waarop jy aantrek, praat, jou postuur, jou houding: al hierdie faktore skep ʼn indruk lank voordat jy enigiets betekenisvol in ʼn eerste ontmoeting met ʼn vreemdeling gesê het. Die foto’s en plasing op jou Instagram-, Facebook-, Twitter- en LinkedIn-profiel vertel ʼn lang en kleurryke storie oor jou aan sowel jou vriende as vreemdelinge. Dis nie goed of sleg nie. Dis maar net hoe dit is. Maar van nou af, soos jy die werkplek betree, moet jy dit beséf en dit doelbewus bestuur,” is van die nuttige raad.

Die ontwikkeling van emosionele intelligensie, hoe om slaggereed te wees vir die Vierde Nywerheidsrevolusie (4IR), waar om met jou soektog na ʼn geskikte werk te begin, hoe om ʼn oortuigende CV te skryf; hoe om vir ʼn werkonderhoud voor te berei en hoe om oor ʼn werkkontrak te onderhandel, word ook op die keper beskou.

Voorts word daar gekyk na: die belangrikheid en nut van netwerking; die voordele van LinkedIn; ondernemerskap; hoe om professioneel op te tree; hoe om met mense met verskillende persoonlikhede en van verskillende kulturele agtergronde oor die weg te kom; beste kommunikasiepraktyke; tyd- en geldbestuur; die opstel van ʼn begroting (en hoe om daarby te hou); en hoe om te spaar en jou geld te laat ‘groei’.

Toegerus met dié nuttige ‘gereedskap’ in GRADnext, kan die oorgang van universiteit na die werkplek heelwat gladder verloop, beaam Mokgabisi Phajane, welwees-beampte in die Mentor-departement van Studietrust.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie