Só het NHSF my gehelp

Deur Maricia Smith

Danksy die finansiële ondersteuning van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds (NHSF), het ek in 2017 my BA-graad in Regte en Internasionale studies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verwerf.

Maricia Smith

My ouers het oorspronklik deur middel van familievriende van die NHSF gehoor. Ek was aanvanklik huiwerig, want as ’n jong student wou ek nie graag skuld aangaan nie, maar ná ek die NHSF-personeel ontmoet het, het ek geweet ek is in veilige hande. Die lening het my regtig in staat gestel om van my geleenthede gebruik te maak.

Ek het in 2014 met vyf onderskeidings aan die Hoërskool Linden in Johannesburg gematrikuleer. In 2015 het ek by Wits met my BA-graad in Regte en Internasionale Studies begin. In my eerste jaar het ek die toekenning gekry as beste nuweling-beoordelaar in die debatstreek Gauteng. Ek het ook op nasionale debatvlak deelgeneem en is blootgestel aan baie nuwe idees en sprekers.

In dieselfde jaar het ek gekwalifiseer vir die internasionale vereniging, Golden Key, terwyl ek in my tweede jaar aangestel is as adjunk-hoofbeoordelaar van Wits se debatspan, verantwoordelik vir die opleiding van nuwe studente-beoordelaars.

In 2017 het ek die studentevereniging, Wits Inala Forum, verteenwoordig by die Suid-Afrikaans Menseregtekommissie oor die reg tot toegang tot gesonde kos.

Ek het in 2018 die eerste jaar van my LLB- graad klaar voltooi. Ek is ook in 2018 in die Dekaanslys opgeneem vir my akademiese prestasie en het ook verskeie meriete- sertifikate ontvang in my verskillende vakke.

In Augustus 2018 het ek my universiteit in Kaapstad verteenwoordig as president van die Wits Inala Forum by die Dullah Omar-instituut se nasionale colloquium oor ‘Toegang tot kos op universiteitskampusse’. Dit is ’n studentekwessie wat my nou nog na aan my hart lê.

In 2019 het ek my finale jaar van my LLB graad voltooi, en is ek weer in die Dekaanslys opgeneem vir my akademiese prestasie. In 2020 het ek my klerkskap by LHL Attorneys Incorporated begin. Die firma is in Illovo, Gauteng, gesetel, en fokus hoofsaaklik op kommersiële reg, personereg asook seksuele teisteringsreg en fluitjieblaasreg. Ek spesialiseer tans in fluitjieblaasreg, ook bekend as ‘disclosures law’ – en glo vas dat fluitjieblasers kan help om die korrupsie in Suid-Afrika bloot te lê en te beveg.

Ek doen ook gereeld navorsing vir Africa Rising Corporate Advisory (ARCA) en het net laas maand ’n Global Cold Chain Alliance (GGCA)-kursus klaar voltooi oor ‘cold chain logistics and service provision’. Ek leer baie by albei maatskappye en wil graag ’n spesialisprokureur word in fluitjieblaas, ESG (Environment Social Governance) en kommersiële reg. Ek sal aan die einde van 2021 my klerkskap voltooi en  hoop om dan die Hooggeregshof as ’n prokureur aanvaar te word.

Ek is trots op alles wat ek in die laaste vyf jaar kon bereik en is baie bewus daarvan dat ek dit nie sonder die hulp van die NHSF kon doen nie! Tannie Joan en die res van haar span het nog altyd tyd gemaak vir enige vrae wat ek het en het my aan die begin van verlede jaar baie gehelp toe ek die skuif moes maak van student na werknemer. Hulle het my goed geadviseer oor hoe om die lening af te betaal. Ek vertel gereeld vir vriende en familie van NHSF want ek voel die organisasie se prosesse is deursigtig en is bereid om in jong Suid Afrikaners te belê.

  • Ons is op soek na mense wat met die hulp van die Noordelike Helpmekaarstudiefonds (NHSF) gestudeer het. Laat weet ons waar jy is en watter draaie die lewe met jou geloop het. Kontak mev. Joan van der Westhuizen by admin@nhsfonds.co.za

 

 

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie