Dra jy die wêreld se sorge op jou skouers? Jy is nie alleen nie

In Suid-Afrika voel dit soms asof daar nie ’n dag verbygaan waarin jy jou nie oor iets bekommer het nie. As dit nie die Covid-19-pandemie en al die gevolge daarvan is nie, is dit misdaad en korrupsie. Of die feit dat jy sonder werk is of nie gaan werk kry nie, hoe jy deur die akademiese jaar gaan kom… Noem maar op. Daar is altyd iets om jou oor te bekommer in dié land.

Hoewel dit geensins jou eie bekommernisse minder gaan maak nie, is dit soms goed om ook wyer te kyk na die res van die wêreld. Dan besef jy ons is nie die enigste mense wat heeldag loop en stres oor iets nie.

Ipsos het pas die resultate bekend gemaak van ’n peiling wat wêreldwyd gedoen is en dit blyk dat ons almal maar bekommerd is oor dieselfde soort goed – met hier en daar ’n verskil in hoe bekommerd ons daaroor is.

  1. Covid-19

Hoewel dié virussiekte steeds die grootste bron van kommer vir mense oor die wêreld heen is, is dit nou op sy laagste sedert Ipsos in April 2020 met die peiling van kommer oor die siekte begin het.

Dit is ook 14 persentasiepunte laer as begin vanjaar.

Daar is ook nou duidelik ’n verskil in die vlak van kommer in die verskillende lande. Ander dinge waaroor die mense baie bekommerd is, is werkloosheid, armoede, sosiale ongelykhede, finansiële en politieke korrupsie, misdaad en geweld.

In 28 lande het 36% van die respondente gesê Covid-19 is die belangrikste uitdaging in hul land op die oomblik, maar soos gesê, daar is fluktuasies tussen die lande.

  • Maleisië (76%) en Suid-Korea (57%) is die twee lande waar mense hulle die heel meeste kwel oor die pandemie. Net 14% van die respondente in Swede het Covid-19 genoem, met Hongarye (15%), Turkye (22%) en België (22%) wat ook nie te besorg is oor siekte nie.
  • Die vlak van kommer verskil ook van maand tot maand. In die vorige peiling in Junie was byvoorbeeld net 7% van die respondente in Israel bekommerd oor Covid-19, maar in die Julie-peiling het dit gestyg tot 26%. Ander lande waar die kommer toegeneem het, is Rusland (17 persentasiepunte tot 30%), Suid-Afrika (13 persentasiepunte tot 42%) en Australië (10 persentasiepunte tot 52%).
  • Die lande waar mense dié keer minder bekommerd was, is Indië (-18 persentasiepunte), Brasilië (-13 persentasiepunte) en Saoedi-Arabië (-13 persentasiepunte).
  • Tog bly Covid-19 die grootste bron van kommer in 10 van die 28 lande waar die peiling gedoen is. In Nederland deel Covid-19 die boonste plek met kommer oor misdaad en geweld, terwyl die Duitsers ewe bekommerd is oor armoede en sosiale ongelykhede.

  1. Werkloosheid

Vrese rondom werkloosheid neem effens af namate mense minder bekommerd is oor Covid-19.

  • Werkloosheid is naas Covid-19 die een ding waaroor mense hulle die meeste bekommer. ’n Gemiddelde 32% van alle respondente het gemeen dit is een van die belangrikste probleme in hul land. Dit is egter effens minder as die 37% wat begin vanjaar so gedink het.
  • Die grootste kommer oor werkloosheid is in Suid-Afrika (62%), gevolg deur Italië (55%) en Suid-Korea (51%).
  • Die grootste styging in kommer oor werkloosheid was in Maleisië, waar dit met 5 persentasiepunte gestyg het.

  1. Armoede en sosiale ongelykhede

Gemiddeld drie uit elke tien respondente het gemeen armoede en sosiale ongelykhede is van die grootste probleme in hul land.

  • Die Russe het die sterkste gevoel daaroor met 58% van die respondente wat baie bekommerd is. Rusland is gevolg deur Hongarye (45%) en Colombia (44%).
  • In Turkye was daar ’n styging in kommer oor dié kwessie wat dié land in die top-vyf plaas met 40% van die respondente wat hulle bekommer oor armoede en ongelykhede.
  • Israel en Maleisië het ook ’n styging van 8 persentasiepunte getoon, terwyl daar ’n daling in Mexico (11 persentasiepunte) was en ook in Hongarye (-9 persentasiepunte).

  1. Finansiële en politieke korrupsie

Finansiële en politieke korrupsie is oor die algemeen vierde op die lys van kwessies waaroor mense hulle bekommer met tot 30% van die respondente wat dit aangedui het as ’n probleem.

  • In Suid-Afrika, die land waar mense hulle die meeste daaroor bekommer, het 60% van die respondente aangedui dit is ’n probleem. Dit is dubbel soveel as die gemiddeld van die res van die wêreld.
  • Mense in Colombia (55%), Peru (53%), Hongarye (51%) en Maleisië (51%) is ook baie bekommerd oor korrupsie en sê dit is een van die groot probleme in die land.

  1. Misdaad en geweld

Een uit vier respondente het aangedui dat dit ’n groot probleem is in hul land.

  • Vreemd genoeg is Swede die land waar mense die meeste bekommerd is oor misdaad en geweld (63%), terwyl meer as die helfte (57%) van die respondente in Mexiko dit as ’n groot probleem in hul land beskou.
  • In Frankryk het die kommer oor geweld en misdaad met 10 persentasiepunte toegeneem in Junie, maar in Julie het dit weer met dieselfde hoeveelheid afgeneem. Die Nederlanders was egter in Julie meer besorg oor die moontlikheid van misdaad en geweld met ‘n styging van 11 persentasiepunte.

  1. En die res?

Mense is nie net bekommerd oor bogenoemde faktore nie. Op die grafika hierby kan ’n mens sien dinge soos gesondheid, onderwys, belasting, klimaatsverandering, terrorisme en obesiteit onder kinders, om enkeles te noem, is ook dinge waaroor mense oor die wêreld heen tob.

So dis duidelik. Suid-Afrika het sy probleme, maar ons is nie uniek nie. Oral ter wêreld is mense maar bekommerd oor presies dieselfde soort goed as ons.

  • Die peiling is tussen 25 Junie en 9 Julie  in 28 lande onder mense van 18 tot 74 jaar oud  gedoen. Onderhoude is gevoer met 20 502 mense in en die data is geweeg om by die profiel van die land se bevolking te pas.
  • https://www.ipsos.com/en/what-worries-world-july-2021

 

 

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie