“MY WERK MY VOORREG”

 

Deur Marista Bezuidenhout (Greyling)

Ek is besig met my gemeenskapsdiensjaar as apteker by die provinsiale hospitaal in Mafikeng. En elke dag by die werk besef ek net weer watter voorreg dit is om te doen wat ek altyd graag wou doen.

Ek is mal oor mense en geniet die daaglikse kontak met hulle – veral die feit dat ek nou ’n rol kan speel in die proses van hul genesing as hulle siek is. Ek kan verduidelik en help – en om elke keer die verbetering te sien, is genoeg betaling vir my.

Marista Bezuidenhout … op my gelukkigste in die apteek waar ek mense kan help.

Ek wou nog altyd iets in die mediese wêreld doen (ek het wel geweet ek wil nie ’n dokter wees nie), en het toevallig in aptekerswese beland. Ek het nie eens gedink ek sou kon bekostig om verder te studeer nie, maar alles het goed uitgewerk en hier is ek vandag!

Ek is gelukkig in my werk – en ook my private lewe. Ek is nou mevrou Bezuidenhout. Ek en Sampie is in Maart getroud en ons woon op ’n plaas buite Lichtenburg.

Die mooiste dag in my lewe toe ek en Sampie getroud is.

Ek het in Pretoria grootgeword en matriek geskryf aan die Hoërskool Pretoria-Noord. Ek was nou nie die slimste in die land nie, maar darem altyd in die top-tien van my groep en het uiteindelik vier onderskeidings gehad. En ek was hoofmeisie.

My skoollewe was vol. Ek het baie druk op myself geplaas en wou presteer in alles wat ek aangepak het. Soos vandag, het ek toe al geglo hoe meer jy doen, hoe meer sal jy gedoen kry. Ek was lid van die Junior Stadsraad en in gr. 11 voorsitter van die sportkomitee. Daardie jaar het ons sportkomitee R25 000 vir liefdadigheid ingesamel. Dit was nogal ’n groot prestasie. Ek het goed gevaar in sport en het provinsiale kleure in atletiek, netbal en sagtebal gehad. Ek het die sewekamp by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap as o.17 gewen en ook derde gekom in gewigstoot by die SA’s. My netbal het gesorg dat ek ’n beurs aangebied is vir my eerste jaar. Dít is hoe ek op universiteit beland het.

Die Vrystaatse Universiteit het aanvanklik vir my ’n beurs aangebied, maar toe die Potchefstroomse Universiteit (Noordwes Universiteit) ook met ’n beurs kom, het ek op die nader plek besluit en ’n Puk geword.

Een van my studiekeuses was aptekerswese. Ek het ingekom en die eerste jaar was nie te erg nie. Daarna, moet ek bieg, was dit een van die grootste uitdagings van my lewe tot nou toe. Die tweede jaar was ’n skok! Jy het klas van vroeg tot laat, dan word jy honger, jy wil kuier… iewers moes ek ’n balans leer vind. Gelukkig het alles goed uitgewerk.

In my eerste jaar was die netbalbeurs net genoeg vir ’n klein deel van my studiekoste. My ouers het my gehelp, maar dit het finansieel moeilik gegaan. Daar was selfs tye dat ek nie regtig gedink het ek sou kon bekostig om vir my tweede jaar terug te gaan nie.

Toe hoor ek van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds. Ek het dadelik aansoek gedoen en ek was uit my vel van blydskap toe ek hoor ek is goedgekeur.

Die fonds het soveel vir my beteken.Die mense daar het my soveel gehelp. Ek het genoeg geld gehad vir my boeke, verblyf en kon my studiegeld betaal. Gelukkig kon my ouers help om die rente te betaal terwyl ek nog gestudeer het. En nou betaal ek daardie lening met groot vreugde af. Elke keer as ek my salaris kry, is dit die eerste ding wat ek betaal, want sonder die NHSF sou ek nie vandag ’n apteker gewees het nie.

Wat die toekoms vir my inhou, weet ek nie heeltemal nie. Ek weet wel ek wil verder studeer en ek en my man het geen plan om die land te verlaat nie. Ja, ons het baie daaroor gepraat en gewonder of ons nie ons heil elders moet gaan soek nie. Maar ons wil nie. Ons hou van Suid-Afrika en sy mense. Van al die kulture. Ons verskeidenheid. Die tale wat ons praat en ek bly droom dat veral ons Afrikaanse mense gaan ophou om so hardkoppig te wees en ek droom van ’n land waar ons almal voorspoedig saam gaan wees. Kyk maar net hoeveel kry ons reg as ons saamstaan – soos met die onlangse onluste weer gesien kon word”

Op 25 is ek nog jonk, maar het al ’n paar lesse geleer. En as ek vandag iets vir ’n 16-jarige Marista sou kon sê, sal ek haar so graag wou oortuig om die lewe meer te geniet en nie so ernstig te wees nie. Dis nie belangrik om 65 kg te weeg nie. Moenie so fokus op prestasie dat jy uiteindelik vergeet om te leef nie. Chill! En behou ’n gesonde balans.

En vir ander jong mense wat ’n besluit moet neem: Moet nooit opgee nie. As jy regtig iets wil doen, kan jy dit doen. Selfs gaan studeer sonder geld, soos ek. As jy regtig wíl en jou kant bring, sal dinge in plek val – in my geval met die hulp van die NHSF.

 

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie