Onderwys in haar bloed

As gebore en getoë onderwyser, wil Cherize Schoeman (neé Hauptfleish) graag haar toekoms verseker by die spogskool in die Vrystaat waar sy tans skoolhou deur verder te studeer en later hopelik departementshoof in haar vakgebied – Afrikaans – te word. Lees meer hieronder oor dié voormalige NHSF-leninghouer se loopbaan, lewe, vrese en strewes.

 

Cherize Schoeman

V: Vertel meer oor jou universiteitstudies, waarom jy op jou studierigting besluit het en hoogtepunte/mylpale in dié tyd?

A: Ek het in 2013 BA Kommunikasie aan die NWU Puk begin studeer omdat ek my hele lewe lank al met mense wou werk en ek lief kommunikeer. Dit was ’n baie interessante en insiggewende graad waaroor ek groot drome en ideale gehad het. Ek het die graad in 2015 verwerf en is in dieselfde jaar uitgenooi om deel van die Golden Key Honour Society te word wat die top 15% studente in ’n studierigting vereer.

Ek dien ook in hierdie tyd (2014/2015) in die Huiskomitee van dameskoshuis, Klawerhof.

In 2016, voltooi ek my Nagraadse Onderwysdiploma… en is vandag nog ’n gebore, gelukkige onderwyser.

V: Hoe het jy van NHSF te hore gekom en in watter mate het die fonds jou gehelp tov jou studies?

A: My ouer boetie was ook afhanklik van die NHSF studielening, om te studeer. Die NHSF het dit vir my moontlik gemaak om vier, finansiële sorgvrye jare op universiteit te kon hê. My jongste boetie het daarna ook finansiële hulp van die NHSF ontvang.

V: Vertel meer oor jou planne vorentoe en wat jy nog, loopbaangewys, wil bereik?

A: Soos reeds genoem, is ek ’n onderwyser by ’n spog-laerskool in die Vrystaat en wil graag my toekoms by die skool verseker deur verder te studeer en later miskien ’n departementshoofpos in my vakgebied, Afrikaans, te beklee.

V: Hoe jou lewenspad van geboorte af geloop het en wie/wat was bronne van inspirasie?

A: Van kleins af het ek redelik maklik en gelukkig deur die lewe gegaan. Ek was ’n goeie sportvrou regdeur laerskool en hoërskool, waar ek deel was van verskeie provinsiale spanne.

In graad 7 was ek hoofdogter van Vaalpark Primêre Skool, waar ek vandag skoolhou. Ek het gematrikuleer aan die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark, waar ek drie onderskeidings behaal het. In graad 12 was ek was ook deel van die uitvoerende bestuur van die Leerlingraad.

Ek het vervolgens aan die NWU gaan studeer. Na afloop van my studies, het ek in 2017 by Vaalpark Primêr begin skoolhou, waar ek vandag nog is. In 2020, het ek met my hoërskoolliefde van 10 jaar getrou!

Dwarsdeur my hele lewe is my ma een van my grootste bronne van inspirasie en my heel grootste ‘cheerleader’. Sy is ook ’n onderwyser, haar hele lewe lank, en ek sien in soveel opsigte op na dié merkwaardige, stylvolle vrou wat sy is en streef elke dag daarna om ook eendag so ’n goeie onderwyser soos sy te wees.

V: Wat doen jy vir ontspanning/om jou batterye te herlaai?

A: Ek oefen elke dag in die gimnasium om my kop skoon te kry en my batterye te herlaai. Ek is ook ’n kranige fietsryer. Vir ontspanning braai ons ook graag oor naweke saam met vriende.

V: Hoe sou jy jou opsom…waarvan hou jy, wat krap jou om, wat maak jou intens gelukkig, waaroor is jy beswaard?

A: Ek beskou my as ’n baie opgeruimde, regverdige en liefdevolle persoon wat onregverdigheid haat. Wat my seker die meeste omkrap, is wanneer mense ander so maklik vals beskuldig sónder die nodige bewyse om aannames te staaf.

Aan die ander kant, maak my man en die lewe wat ons saam gebou het, my intens gelukkig. Ek is egter beswaard oor die situasie in ons land en die moontlikhede wat dit eendag in die toekoms vir ons kindersmag inhou.

V: Wat is die ‘kompas’ in jou lewe, wat hou jou op koers?

A: My geloof in die Here is my kompas in die lewe en Sy beloftes en tydsberekening hou my op koers.

V: As jy enige inspirerende persoon, op watter gebied ook al, kan ontmoet, wie sou dit wees en wat sou jy met hom/haar wou bespreek?

A: Die Here. Ek sou Hom vra om al my baie onbeantwoorde vrae te beantwoord.

V: COVID-19 het die wêreld, SA inkluis, op sy kop gedraai: hoe het dit jou as onderwyser persoonlik geraak en wat het die pandemie jou geleer?

Die werk wat ons met leerders moet inhaal wat vir groot dele van verlede jaar nie by die skool was nie, het ’n groot agterstand by leerders tot gevolg gehad en dit is moeilik vir die kinders, wat nie tydens die inperking gewerk het nie, om dit in te haal.

Die pandemie het my geleer dat ons tyd en die Here se tyd nie noodwending ooreenstem nie. Dit is nie te sê dat as jy iets beplan, dit so gaan uitwerk nie. Tog is Sy tydsberekening perfek en dinge gebeur met ’n doel.

V: Hoe  voel jy, as jong Suid-Afrikaner, oor ons land en sy toekoms?

A: Bitter bekommerd, veral oor die verwoestende misdaad,  korrupsie en werkloosheid wat elke dag toeneem.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie