“Lewenslange leer noodsaaklik om relevant te bly in die werkplek”

Deur dr Juran van den Heever, kommunikasiespesialis, FIO-groep

 

Die Vierde Nywerheidsrewolusie is besig om die wêreld van werk, soos ons dit ken, onherroeplik te verander. Om relevant te bly in die werkplek, sal die werkmag lewenslank moet leer.

Die sakestrateeg en voormalige korporatiewe beplanningsdirekteur van Royal Dutch Shell, Arie de Gues, het al in 1988 daarop gewys het dat die vermoë om vinniger as jou mededinger te leer, straks jou enigste volhoubare, mededingende voordeel gaan wees.

Almal in die wêreld is op soek na goeie werk. Jim Clifton, voorsitter van Gallup, skryf in sy boek, The Coming Jobs War, dat daar ’n globale oorlog vir werk kom en ons moenie tyd mors nie.

Werk is nie net meer werk nie

Feit is: die aard van werk is besig om voortdurend te verander.  Werk wentel lankal nie meer  om ‘doen jou werk’ nie, maar eerder meer om jou aanpasbaarheid in ʼn nuwe werksituasie ten opsigte van nuwe tegnologie en nuwe maniere om met ander te werk.  Outomatisering, robotte en kunsmatige intelligensie (AI) is nie net meer woorde in die verre toekoms nie, maar realiteite.

Ons werk in omgewings waar werkers slimmer, skeppend en innoverend dink en beter bekwaam is.  Geskoolde werkers soek vandag opwindende nuwe ondervindings. Hulle besef onder meer dat interpersoonlike vaardighede, skeppendheid, besluitneming, goeie oordeel en empatie nodig is.  Mense soek betekenis en vreugde in die werkplek.

 

Dr Juran van den Heever

 

Die doel van besigheid is leer

Die doel van besigheid is steeds om wins te maak, kliënte te behou, volhoubaar te wees, aandeelhouers tevrede te stel, en om ʼn verskil in die gemeenskap te maak.  Sonder leer, is niks hiervan moontlik nie.  Slim organisasies gebruik nuwe inligting om slimmer, beter en effektiewer te funksioneer.  Lewenslange verandering is ook ʼn realiteit, en onderbrekings kom oral voor.  Om te oorleef en vooruitstrewend te bly, moet daar innoverend na leer gekyk word.

Daar moet meer geleer word oor die teikenmark en hoe om aan diegene ʼn volledige diens te bied en hulle tevrede te stel.  Almal moet leer hoe om ʼn organisasie te help bou wat effektief daarna strewe om sy doelwitte te bereik.  Mense moet nie net leer om nuwe tegnologie te gebruik nie, maar veral hoe om nuwe tegnologiese uitdagings te bowe te kom.  Hulle moet ook leer om met mekaar in diverse omgewings saam te werk en hulself ook beter te ken: of jy nou leer hoe om met ʼn masjien te werk, hoe om oor salarisse te onderhandel, hoe om Excel te gebruik of hoe om besluite in ʼn span te neem.  Die organisasie moet aanhoudend leer om hulle vir sukses voor te berei.

Graad nie meer alfa en omega nie

’n Graad gaan steeds ’n gesogte kommoditeit wees en dit sal in die nabye toekoms stellig so bly, maar alles dui daarop dat dit in die arbeidsmark van die toekoms nie meer die alfa en die omega gaan wees nie.

Die wêreld se voorste tegnologie-entrepreneur, Elon Musk, het verklaar dat grade nie ’n voorvereiste is om groot hoogtes te bereik nie. Hy sê die belangrikste is die ontwikkeling en instandhouding van die relevante vaardighede om aan te hou presteer. Omdat grade in tegniese dissiplines vinnig uitgedien raak as gevolg van die snel ontwikkelende aard van die sektor, is lewenslange leer kritiek.

Lewenslange leer is die voortdurende, vrywillige en selfgemotiveerde nastrewe of voortsetting van kennis, of dit nou vir professionele hoedanigheid of persoonlike hoedanigheid is. Daarom verbeter dit nie net sosiale inklusiwiteit, aktiewe burgerskap en persoonlike ontwikkeling nie, maar ook selfvolhoubaarheid, mededingendheid en indiensneembaarheid.

Vier pilare

Die vier pilare van lewenslange leer is:

  • basiese onderrig
  • hoër onderrig
  • voortgesette opleiding, en
  • ontwikkeling en heropleiding. Dit sluit ook in leer om te weet, te doen, te weet en met ander saam te leef.

Nes die wêreld teen ’n geweldige pas transformeer, verander die metodes van leer, veral in die werkplek. In die verlede het die werkgewer werkverwante opleiding aangebied om werk makliker gedoen te kry. Deesdae word voortgesette leer die norm in groot maatskappye. Maatskappye begin stadig maar seker ’n leerkultuur vestig wat met hul langtermyndoelwitte ooreenstem.

Opleiding sal vervang word deur digitale leer. Dié opleiding sal ontwerp word om aan te pas by die werknemer wat daardie kennis of vaardigheid moet opdoen. Om by digitale leer in te koop en te bly leer, moet werknemers se digitale ervaring gemaklik wees.

Hoewel mense steeds kreatief, sosiaal, mobiel en fisiek handvaardig is, moet hierdie menslike eienskappe wat nooit gaan verdwyn nie, met die nuwe tegnologie verweef word.

Die futuris, Alvin Toffler, het al in 1970 in sy boek Future Shock gesê: “The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn and re-learn.”

Daar is net een antwoord vir lewenslange verandering en dit is lewenslange leer.

-EINDE-

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie