‘Dit is tyd om ons benadering tot die onderwys te verander’

 

Deur Stefan Botha, Uitvoerende Hoof, Optimi Group

 

Jeugmaand in Suid-Afrika (Junie) is ’n tyd wanneer ons graag bestek-opname doen oor hoe ver ons gevorder het ten opsigte van die onderwys in ons land.

Dit ly geen twyfel nie dat daar groot vordering gemaak is. Met die aanbreek van demokrasie in 1994, het 58% van leerlinge in openbare skole Graad12-matriek geslaag, terwyl die slaagsyfer in 2021 76,4% was.

Desondanks staar die jeug ernstige uitdagings in die gesig, soos aangedui in twee onlangse verslae.

Die eerste onderstreep ’n stelling deur die Minister van Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, dat gemiddeld net 4% van leerlinge wat met Graad 1 in SA begin, uiteindelik ’n universiteitsgraad behaal.

Wat die probleem vererger, is die feit dat die COVID-pandemie van die afgelope twee jaar ’n groot impak op onderwys en opvoeding gehad het. ’n Onlangse studie deur die Universiteit van Stellenbosch – wat toetsresulte van 2019 tot 2021 oor ’n reeks wiskundige en geskrewe vaardighede in ’n skooljaar vergelyk het – het bevind dat leerlinge se punte met 40% tot 70% in taalonderrig gedaal het vergeleke met vorige studente, en van 95% tot 105% in wiskunde in die ooreenstemmende tyd.

Al hierdie onderwysuitdagings het oplaas ’n regstreekse impak op werkgeleenthede in Suid-Afrika. Tans is 64% van die jeug tussen 15-24 jaar oud in Suid-Afrika amptelik werkloos.

Maar al hierdie statistieke sluit ook ’n baie belangrike feit in wat dikwels buite rekening gelaat word, naamlik dat die werkloosheidsyfer beduidend laer is vir mense met hoër onderwysvlakke. Byvoorbeeld, die jongste werkloosheidsyfer vir mense sonder matriek in Suid-Afrika is hoër as 40%, terwyl dié van gegradueerdes laer as 10% is.

Dus moet ons, as land, baie meer doen om te verseker dat ons ons leerders help om die volgende vlakke van onderwys op hul opvoedkundige reis te bereik.

Betekenisvolle digitale onderwys

In die 21ste eeu is dit billik om te sê dat tegnologie en konnektiwiteit die pas moet aangee in ons onderwystelsel en alles moontlik gedoen moet word om verlore veld in te haal.

Terwyl dit wel die afgelope paar dekades ’n tendens in die onderwys was, het die COVID19-pandemie die gebruik van tegnologie in die onderwyswêreld versnel.

Die Promaths-program het byvoorbeeld met behulp van tegnologie wiskunde- en wetenskap-onderrig na duisende leerlinge van armer skole gebring. In die eerste jaar van die pandemie, het die aanlynprogram sowat 2 000 Graad 12-leerlinge ondersteun.

Die projek was ’n klinkende sukses: die leerders wat wiskunde geskryf het, het ’n  slaagsyfer van 99% behaal (vergeleke met ’n nasionale  slaagsyfer van 53%). Sowat 90%  van hierdie leerders het 50% of meer in die vak behaal, en die program het sowat 5% van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se onderskeidings in skoolwiskunde en -wetenskap opgelewer. Sowat 90% van die leerders het ’n toelating vir ’n Baccalaureus-graad op grond van hul matriekresultate ontvang.

Dit ly geen twyfel nie dat die potensiaal bestaan om dié soort benadering na ’n wyer netwerk van leerlinge in Suid-Afrika uit te brei, en digitalisering bied ons die vermoë om dit te kan doen.

Universiteit is nie die enigste opsie nie

Nádat ons voorkeur gegee het om in te haal in ons skoolstelsel, moet ons voorts ook meer aandag gee aan leeropsies vir ons leerlinge ná matriek.

Terwyl daar wel bewys is dat ’n graad ’n student se werkvooruitsigte verbeter, is dit ook so dat die wêreld dramaties verander het wanneer tersiêre onderwys ter sprake is.

Daar is nou al vir baie jare ’n nypende tekort aan vakmanne in SA, en dus is daar baie werkgeleenthede in hierdie veld. Om ’n vakman te word, sal jy dus nie die universiteitsroete volg nie, maar liewer nasionale ambagskursusse.

Dié kwalifikasies, wat bekend staan as N1-, N2- en N3-kwalifikasies, stel leerders in staat om loopbane as ketelmakers, passers en draaiers, sweisers, elektrisiëns en motorwerktuigkundiges te volg.

As dit by tegnologie kom, is daar byvoorbeeld gesertifiseerde sagteware-ontwikkelingsprogramme wat basiese begrippe soos HTML5, C#, Microsoft Azure en talle ander dek. Daarbenewens is daar baie lewensvatbare alternatiewe vir universiteitskursusse op die gebied van boekhou en finansies, mensehulpbronnebestuur, ens.

Wat baie duidelik blyk, is dat ons kollektief as land ‘buite’ die spreekwoordelike boks moet dink ten opsigte van hoe ons ons jeug oplei en die opsies wat beskikbaar is nadat hulle hul skoolloopbane voltooi het. Daar is vandag soveel meer opsies op die tafel danksy vordering op tegnologiese gebied.

Só kan ons dan begin om die groot uitdagings voor ons as land aan te pak.

-EINDE-

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie